MOTORSPORT NEWS

BOEREPLAAS TOWERGROND – IEWERS RY DIE PLAASBLITS ROND

BOEREPLAAS TOWERGROND – IEWERS RY DIE PLAASBLITS ROND

[of dan – die pad tot by die kroning van Suid-Afrika se PlaasBlits]

Geskryf deur Leon Botha

Het jy al ooit varsoggend met die klipperige pad na die kraal gestap?

Koue winter om jou kaal voete gevoel, stoom van beesmis, wat jy al van ver af kon sien trek.  

Het jy al  die melkemmers hoor klingel, ou Abraham van Isak, se stem gehoor, wat op ‘n moedswillige kalf  skreeu of ‘n koei wat nie wil stilstaan nie.

Vinke wat nog effe ná aan hul nessies sit,  en laatslaap-swaeltjies wat nou eers regmaak vir die lang vlug na warmer dele.

Die koffie reuk het in die kombuis agtergebly – jy hoor pa uit die stoor kom en met die bakkie na die pomphuis teen die rivier ry, waarvandaan die vinnige klop-plof, klop-plof geluid van die Lister pomp daar by die rivier deur die bomelaning aankom.

Die ‘klop-plof’ bevestig energie, lewe, ‘n boodskap van seën, ook van hoop, terwyl die mistigheid laag oor die perskeboord hang en die wilde ganse raserig bo oor alles verbyvlieg.

Tye so lank gelede dat min van ons, selfs die jonger boere dit nie meer so sal onthou nie – maar tog sal dit altyd, altyd soos daardie denkbeeld van Marilyn Monroe in haar opwaai rok, by ons bly.

Heden dag is die geklik van rekenaarsleutels vroeg oggend ook deel van alles. natuurlik bulk die beeste en die skape blêr maar boerdery het verander – alles behalwe die reën en die natuur wat ons nie kan beplan nie, is omtrent anders.

Elke druppel water word benut, elke krieseltjie kennis is belangrik, maar ten minste soos van ouds, tel elke sent steeds!

Ek verlang terug na ons heerlike – en, ja, ook die sukkel-dae op die plase waar ek as kind groot geword het, maar plaas koop is nou ook nie meer trou nie!

Die afgelope maande tydens die beplanning van ons nuutste byeenkoms wat ek reël, het ek meer en meer met die mense waar ek tuis voel te doen gekry, nie dat dít nou vir my ‘n nuwe ondervinding is nie – ek het nog altyd aan en af kontak met boere behou.

Gedurende ‘n baie lang tydrenloopbaan en daarna tien jaar waar ek die roete notas (pace-notes) vir al die kampioenskaptydrenne geskryf het, het ek die voorreg gehad om heelwat boere te ontmoet en met hulle te gesels.

Hulle is die mense wat feitlik nooit gehuiwer het om te help om ons sport moontlik te maak nie – soms tot hul eie ongerief – maar meer dikwels tot hul groot genot.

Regte mense, mense waar dinge wit of swart was en is, en nie verskillende skakerings van grys nie.

Elke streek se mense het hul eie sienings gehad oor sekere dinge, maar die reën en die oes was maar altyd die algemene aanknopingspunt vir gesprek, terwyl hele verhale  oor ‘n koppie koffie oopgevou het.

Soos ek ouer geword het, het al meer my “oom” genoem, terwyl ek al minder van hulle so moes aanspreek. Steeds het dit altyd gevoel of een ding dieselfde bly – wedersydse respek en soms selfs onverdiende vertroue. My mense!

Daar was niks lekkerder as om jaar na jaar terwyl ek die roete notas geskryf het, net weer stil te hou, blad te skud en dankie te sê dat ons weer oor die plaas kon jaag nie. Altyd dieselfde welkom, altyd dieselfde – geen pretensies nie – wat jy sien is wat jy kry.

Oor die jare het ek agtergekom hoe intens baie van die boere belangstel in die kuns van motor bestuur. Hoe hulle raakgesien het welke tydrenjaer kon bestuur en wie wydsbeen op ‘n tjekboek verby gejaag het.

Ek het agtergekom hoe trots die meerderheid van hulle was op die voertuie wat hulle verkies het om te bestuur, hoe lojaal hulle teenoor die handelsmerke was.  Ek het dikwels gewonder of die vervaardigers die lojalieit verdien het, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Plaaseienaars oor wie se grond tydrenne plaasgevind het,  het die tydrenne as geleentheid gebruik om groot getalle vriende en kennisse te nooi – om op die plaas waaroor die tydren loop, die tydren motors dop te hou en soms tot vroeg volgende oggend te braai.

Ek sal nooit van die stories vergeet wat ek ná die tyd moes hoor van “Ou oom Gert” wat effe die pad byster geraak het toe hy met sy V8 Land Cruiser vir  jong Manie – Groot Sarel se seun in die Isuzu gejaag het nie.

Honderde stories, lekker stories, maar daar was nooit werklik iets georganiseerd waaraan boere kon deelneem om te probeer bepaal wie werklik die beste bestuurder onder hulle was nie of om hulle dan sommer net  te geniet nie.

Hierdie was eintlik onwetend die geleentheid waarna ek gesoek het.

Ek het by die Rallystar Motorsport Akademie die bes beplande en ontwerpte paaie waar mense daagliks voertuie toets, paaie waarop hulle oefen en sommer net ry om hul vernuf te verbeter.

Rallystar was waar ek my passie – die kuns van bestuur kon oordra en probeer om mense te laat verstaan waaroor dit gaan.  Hulle te laat weet, of liewer te waarsku, as hulle deel vorm van dié wat die kuns van bestuur nooit sal verstaan nie. Ek sê altyd dat daar is net twee soorte bestuurders – die wat die kuns van bestuur verstaan en kan toepas – en aan die anderkant – Die Vyand! Daar is ongelukkig niks tussen in nie.

Mense vra my dikwels of ek nie, die “Vyand” wat nie die kuns van bestuur verstaan nie, kon leer nie.

Daarop antwoord ek gewoonlik – “niemand kan van my ‘n konsert pianis maak nie – dieselfde geld vir die wat nie ‘n natuurlike aanleg vir bestuur het nie – hulle kan en sal nooit werklik kan bestuur nie.”

Ek het deur die jare ‘n klomp mense, onder wie heelparty boere, by Rallystar gehelp om veiliger op die paaie te wees, om uit moeilikheid, wat gewoonlik deur ander veroorsaak word, te kom of te bly – in kort om ten minste langer te leef.

Een ding was egter seker – die boere was en is ernstig oor motor en veral “bakkie” bestuur.

Die idee om die beste bestuurder te vind het sowat ‘n jaar en ‘n bietjie gelede, finaal pos gevat, toe ek weer eendag hoor hoe lekker ‘n klomp manne bymekaar lag en gesels. Die stories het gegaan oor een van hulle vriende wat in sy bakkie glo selfs die duiwel sou kon wegry!  

Die entoesiasme waarmee hul een na die ander storie oor gewoonlik “ander” se vernuf vertel het was altyd vir my eienaardig, tot een van hulle sou sê; “Ja maar Stefaans, jy ry darem self lekker hoor!” en ‘n ander byvoeg dat hy reken Stefaans sal vir Swart Piet moertoe ry!

So tussen deur die stories het die idee vorm aangeneem en ek het geweet ek moes die vinnigste en vernuftigste boer agter ‘n bakkie se stuurwiel in Suid-Afrika soek. Daarmee saam sou ons sommer ook baie meer aandag vestig op die noodsaaklikheid en begrip van die kuns van bestuur.

Die vinnigste boer agter ‘n bakkie se stuur, moes ‘n soort van “superman” wees. Iets soos die  hedendaagse Super rugby spelers. ‘n Regte egte weerligstraal of so iets.

Die naam BlitsBoer kom toe ook sommer dadelik by my op – maar net so skielike val die Suid-Afrikaanse sluier oor die naam – die kamtige polities verkeerde konnotasie van die naam “Boer” sou dalk een of twee probleme veroorsaak en met ‘n sug, besluit ek toe maar op PlaasBlits en tot nou toe het dit groot byval gevind.

In my boek het die soeke na die vinnigste Boer in ‘n bakkie in Suid-Afrika het begin  en ons gaan hom of haar as die PlaasBlits kroon, op Engels FarmFlash!

Die titel moet gesog wees – en ons moet die werklike PlaasBlits soek en vind en weet dat, as hy/sy nie Stefaans of Rooi Piet is nie, ons PlaasBlits nie deur hulle weggery gaan word nie.

Sommer die heel eerste skets wat ek gedoen het om die idee by my te laat vorm aanneem.


Waar ek daarna ookal gegaan en met boere gesels het oor die idee, is dit met soveel entoesiasme ontvang dat die bietjie twyfel wat ek gehad het, verdwyn het.

Ek het geweet – ons moes die PlaasBlits vind!

Alles was eintlik in plek, ‘n ongelooflik geskikte baan waar ons die manne met goed beheerde veiligheid sou kon laat jaag, plek waar ons die vaardighede agter die stuurwiel deeglik sou kon toets en waar ons genoeg veilige plek vir toeskouers sou hê.

Nou moes ons ‘n span kry om die televisiedekking te hanteer, nog een om die lewendige uitsendings “streaming” op internet uit te saai, ‘n webtuiste moes gebou word en bowe al – ek moes geld vind om die byeenkoms aan te bied – ‘n klomp geld!

Soos ouens in hogere poste in die regering sou uitvind tot ons almal se verdriet – in meeste gevalle te laat – praat is een ding – dinge doen ‘n ander.

Gelukkig het ek al in my lewe – wat nou al amper voel soos ‘n vorige lewe, heelwat borgskappe suksesvol gereël en ek het ook so half en half geweet waarvoor om uit te kyk en wat om nie te probeer nie.

Hierdie was egter ‘n heel nuwe veld. Hierdie was nie geld vir tydrenne nie, maar om ‘n byeenkoms vir boere bymekaar te kry. Ons moes mooi dink watter borge werklik daarby sou baat?

Natuurlik dink mens uit die aard van die kompetisie eerste aan “bakkie” verskaffers – en dit was dan ook die eerste plan wat in my kop ingekom het.

My moed het sommer skoene se kant toe gesak want glo my – as jy al probeer het om met Mr. Ramaphosa ‘n afspraak te kry en gedink het dat dit moeilik was – dan moet jy probeer om by ‘n motorsvervaardiger by die “regte” persoon uit te kom wat ten minste vir jou “nee” met oortuiging kon sê – die manne nie altyd benede van die heiliges wat ons ken nie.

Gelukkig – het ek al geleer om terselfdertyd positief en negatief gelyk te dink.  

Kom ons veronderstel die genade is met my, en een van die uitverkorenes by ‘n vervaardiger sien die potensiaal raak en besef dat hulle hier ‘n uitstekende geleentheid het om bemarking te doen, maar ook terselfdertyd vir boere dankie te sê vir hulle getroue ondersteuning oor baie jare, deur vir hulle ‘n heerlike byeenkoms aan te bied. ‘n Byeenkoms waar boere nie net pret kan hê nie, maar ook kan wys wat agter die stuurwiel van ‘n bakkie in hulle steek, al was dit dan net om vir ‘n buurman of twee of die geagte voorsitter van die Landbou Unie weg te ry.

Aan die ander kant, sê nou maar net, daardie persoon gee vir ons die paar Rand omdat hy die potensiaal sien en verstaan. Dit is alles goed en wel, maar sê dan nou maar net, dat dieselfde vervaardiger se produk die kompetisie wen? Dan gaan die manne met die ander produkte mos hardop wonder of alles regverdig of soos min in Suid-Afrika deesdae gebeur – bo verdenking staan.

Die idee sit ek toe sommer dadelik by die agterdeur uit en bedink dit uit ‘n ander hoek – soos om ‘n nuwe bakkie as eerste prys op die spel te plaas?

Een waarvoor ons begroot en koop. Ons moes met vervaardigers praat en so ses van hulle vra om elk so ‘n bakkie beskikbaar te stel (teen die bes moontlike prys natuurlik) en dan kies ons dié wat binne die begroting val.  Die eerste idee was toe dat die deelnemers voor die tyd sê welke een hulle sou wou hê, indien hulle as die PlaasBlits gekroon word.

Na effe verder se dink is ek toe bekommerd dat van die vervaardigers dit as negatief teenoor hul bakkies sou sien en daarom dalk nie sal wil “kompeteer” nie.  Dit – nieteenstaande die feit dat ons aan al die bakkies dieselfde publisiteit op TV en streaming sou afstaan.

Ek het selfs gedink om ‘n ervare tydrenjaer te kry wat die bakkies elk vir ‘n toetsrit neem en individueel beoordeel, sonder om die verskillende make teen mekaar af te speel! Bloot net vir addisionele publisiteit.

Om dié probleem van “kies die bakkie” die hoof te bied besluit ek toe – dat die wenner op die aand van die Prysuitdeling ‘n naam uit ‘n hoed, met al die name in, moet trek en dat ons so die “wen bakkie” bepaal.

Wonderlik – nou is alles regverdig, of sou dit wees?

Ek sien al hoe meer as een van die boere wat ek ken, ‘n naam van ‘n bakkie waarvoor hy nie lus is nie, die aand uit ‘n hoed op die verhoog trek!

Voor ek sou kon keer sal hy sê, “ma my fork man, ek ry nie hierie ding nie!” of dalk bars hy in trane uit op die verhoog, met al die vrouens wat “ag siestog, kyk hoe bly is hy” sal sê, tot hul agterkom hy huil omdat hy nie die bakkie getrek het wat hy wou hê nie.

Om ‘n groot suksesvolle boer te sien huil met trane wat oor daar die somer-gebrande-wange rol en in ‘n dig beboste baard in verdwyn – was, is en sal nooit ‘n mooi gesig wees nie.

Toe besluit ek dat die beste plan vir almal sou wees om…

Lees gerus Woensdag die 20ste verder en skryf intussen in vir die PlaasBlits kompetisie. Dinge vorder fluks. Die eerste paar dae van April is reeds bespreek vir kwalifisering van deelnemers.