MOTORSPORT NEWS

BOEREPLAAS – TOWERGROND – IEWERS RY DIE PlaasBlits ROND

Episode 2 – (die verhaal wat elke moeder hart sal roer – wie onthou nog Sprinbok Radio se middag stories?)

VERDER DIE PAD AF – OPSOEK NA DIE PLAASBLITS
Geskryf deur Leon Botha

Ek het weer vanmiddag tydens besoek aan een van ons borge gesien hoe lojaal die manne aan die maak van die bakkies is wat hulle ry.

Jy gaan ‘n Nissan man nie uit ‘n Nissan kry nie, ‘n Ford man nie uit ‘n Ford uit nie en vergeet maar by voorbaat om die Toyota eienaar te oortuig dat enigiets beter is.

Dit is nogal eienaardig of eerder interessant om te hoor dat almal half lugtig is vir die Amarok – veral een of ander nuwe een wat nou op die mark is. Maar dan hoor jy ook sommer hoe raak hulle meer geditermineerd om “kom wat wil” weg te ry. Later meer hieroor en ook oor die PlaasBlits- voorgee sisteem.

Indien jy die vorige episode gelees het, sal jy onthou dat die “Bakkie as eerste prys”, eintlk ‘n paar probleme veroorsaak het – en bygesê die vervaardigers waarmee kontak gemaak was om hul samewerking te toets, het nie juis na ‘n hoër rat toe oorgeskakel of deur ‘n draai “gedrift” van opgewondenheid nie. Inteendeel hulle het dadelik gewonder of dit nie negatief gaan wees as hulle produkte die spit afbyt nie!

Dan weer was daar die houding – hulle het klaar hul kliente en basta – die boere sal hulle bakkies koop of hulle nou help om die byeenkoms moontlik te maak of nie. Daardie tipiese Stuit-Afrika houding wat mens ongelukkig so dikwels raakloop.

Die plan om ‘n bakkie uit ses of sewe voor jy begin te kies of om ‘n lootjie te trek uit ‘n hoed met ‘n bakkie se naam daarop, sou hier en daar soosek geskryf het, negatiewe gevolge gehad het, so wat nou gemaak?

Dit was natuurlik vir my lekker om na die verskyning van die eerste promosie video te sien wat die manne vir mekaar skryf. Hoe hulle vir mekaar ‘n punt gaan wys en watter bakkie watter ander een se gat gaan skop! Terloops meer as 17 000 mense het tot duver na die video gekyk en dit het ongeveer 40 000 reeds bereik. Wat meer kan ek sê?

“Kom jy’s mos glo nie bang nie!” “Daardie Ranger van my ry jou Toyota so stukkend, jy sal terug kom om te kom kyk wat gebeur het!” “Ek het lankal vir die kans gewag, nou sal ons sien hoe lyk vinnig!” “Omdat ek van jou hou, sal ek jou tou met my “Cruiser”, dan kom jy ten minste tweede!” en so aan.

Die PlaasBlits op pad ba sy Bakkie toe!

Die inskrywings vorder fluks en ons behoort ons afsnypunt vinnig te bereik.

Ons het nog nie die Eerste Prys aangekondig nie, omdat ons steeds besig is om met groter maatskappye te onderhandel vir die hoofborgskap – maar die prys gaan hier by die R300K – R400K werd wees soos dinge vir ons lyk.

Laat ons eers sien waarmee en wat ons mee opkom want ons het die kwessie van kies en trek nou vervang met – “Hier is die eerste prys waarvoor meegeding word!”

Die prys wat wat die wenner gaan kry die aand met die prysuitdeling.

Hierdie plan gaan beste werk vir die Titelborg omdat daardie maatskappy van April tot Augustus met die prysuitdeling publisiteit vir sy produk(te) kry.

Die deelnemers, die publiek, die ondersteuners, TV kykers en die wat die gebeure op Internet volg, gaan die produkte sien!

Dieselfde geld vir die produkte van die twee of drie groter mede-borge en beste van alles is, hulle kan ‘n gedeelte van hul borgskap opmaak deur produkte in plaas van kontant te gee.

Ja nee, jy het reggesien – die hele kompetisie gaan op TV en oor internet gestroom-sein (Streaming) word.

Ons gaan sonder twyfel ‘n paar van die deelnemers in TV sterre verander – manne en dames wat hul sê gaan sê, hul ding gaan doen en hul storie gaan vertel.

Só as jy ‘n interessante boerdery het, of jy is ‘n spesialis op jou gebied of, en dalk is dit die belangrikste, as jy ‘n goeie storie te vertel het – gaan jy hom sommer so in die ry vertel, wanneer jy kwalifiseer of ná jy gekwalifiseer het, maar vertel moet jy vertel.

Ons gaan borge hê wie se produkte kompetisie voorkeur produkte gaan wees, items soos Bande, Brandstof, Batterye, Uitlaatsisteme, uitsoek onderdeel-verskaffers-groep, verkoelers, bakdeksels, voertuig glas, versekering, sleepstange, rolstawe en meer sulke produkte.

Al hierdie borge sal bes moontlik aan die deelnemers spesiale – en ek bedoel spesiale aanbiedings maak. Daar is sprake dat jy dalk van die produkte sal kan toets – jou bakkie kan laat instel (chip) en dan die verskil voel wat dit daaraan maak, voor jy die produk hoef te koop!

Ek moet sê dat hierdie spesifieke verstelling sonder waarborg implikasies gedoen word, sonder om onverantwoordelik te verstel en te verander – maar boeta – loop daardie bakkie na so ‘n herprogrammeringtjie!

Ons het natuurlik behalwe ‘n klomp inskrywings ook die kêrel gehad wat daar van Rallystar se hek af gebel om te hoor of hy so bietjie op die baan kan kom oefen.

Eers was hy effe ontstoke omdat hy nog nie mag kom ry nie en toe hy hoor hy moet ‘n bona fide boer wees om te mag inskryf vir die groot titel van PlaasBlits toe was hy half huilerig, maar toe vertel ek hom van die Pro-Bakkie klas.

Ons het die Pro-Bakkie klas ingestel juis om die persone wat graag hul bestuursvernuf wil toets teen ander, maar nie landbou verbintenisse het nie – toe te laat om in te skryf.

Hulle gaan welliswaar ry teen persone wat reeds kompeterend gery het, maar onthou – daar is ‘n “voorgee” sisteem (handicap) van toepassing op alle klasse.

Die idee van die voorgee is om aan die persoon met ‘n stadige bakkie ook ‘n kans te gee om voorlangs te jaag en om deur te dring tot by die finale rondte en dan so kans kry om te wen!

Die voorgee word na kwalifisering uitgewerk, daar word gekyk na die bakkie se gegewe werkverrigting, spesifikasie en tye deur ander deelnemers in soortgelyke voertuie opgestel en dan word ‘n voorgee uitgewerk.

Daar sal ‘n maksimum voorgee van 10 tot 12 sekondes, per kilometer beskikbaar wees.

Die persoon met die voorgee sal egter steeds moet uithaal en wys om te ry waar die “groot manne” ry en die grootmanne – wel hulle sal ook moet uithaal en wys.

Dan het ons ook die vier-man-spanne.

Die idee hier is om vir deelemers addisionele kanse te skep om pryse te verower. Die spankompetisie is egter slegs oop vir die wat kwalifisseer om vir die PlaasBlits – klas in te skryf. Daar gaan ook span uniforms beskikbaar wees – wat inplaas van die individuele hemde opgemaak sal word. Dit behoort by te dra tot die lekker maar kompeterende gees onder die manne en dames, wat ons verwag.

So – wat hier gebeur is dat die spanlede individueel en ook as span deelneem. Die algehele wenner kan dalk ook in die wenspand wees, of vier lekker konstante deelnemers kan met hierdie titel wegloop!

Al die pryse sal teen einde Junie of vroeer aangekondig word.

Die volgende datums is van belang:

7 April – eerste openinge vir kwalifisering
30 Junie – aankondiging van al die borge en pryse.
15 Augustus – laaste dag vir kwalifisering vir “Top120”
17/18 Augustus – Kwarteindrondte
23/24 Augustus – Semi-finaal en Finaal
24 Augustus – prysuitdeling en aanwysing van die PlaasBlits – die vinnigste Boer in ‘n Bakkie in Suid Afrika, en ook:
Die vinnigste Boervrou in ‘n bakkie.
Die vinnigste Viermanskap,
en natuurlik die Pro-Bakkie Kampioen.

Lees Vrydag 22 Maart hoe alles inmekaar steek – hoe jy jou inskrywing moet doen as jy nie reeds het nie, hoe om jou video van die baan met wenke en ander praatjies ingesluit af te laai en so meer.

Rig asb alle vrae en voorstelle – ook borgskap navrae aan my: leon@rallystar.co.za

Dit is belangrik om jou inskrywing so gou moontlik in te kry.