MOTORSPORT NEWS

MATRIEK AFSKEID EN SO AAN…

Dalk ‘n finale vaarwel?

Ek is tans (vir ‘n ruk al) besig om ‘n boek te skryf met die titel: “I killed my child!”

Dit klink natuurlik soos iets wat elke skoolvakansie in die verbeelding van baie ouers afspeel, maar hierdie titel is ongelukkig in baie gevalle die reine waarheid.

Dit gaan oor jongmense wat motors bestuur en ouers wat beter moes weet, as om omkoopgeld te betaal vir lisensies. Dan spog hulle nog daarmee ook!

Dit is egter nie waaroor ek vandag wil of gaan skryf nie.

Vir die afgelope tien of so jaar, dreig ek elke jaar hierdie tyd, om ten minste my deel te doen om ouers te help om hul kinders aan die lewe te hou.

Ek was vroeër in my lewe bevoorreg om sewe jaar lank (nie juis goue jare nie) in die restaurantbedryf deur te bring.

Behalwe dat dit baie harde werk was – lê die “voorreg” daarin dat ek beter as meeste ouers wat nie hierdie soort lewensondervinding het nie, weet hoe “kinders” of dan jongmense se koppe werk. Dit wat hulle dink snaaks is en dinge waaroor hulle geen insig het nie.

Ek weet hoe min ouers werklik weet wat die spulletjie agter hul rue aanvang en daarom het my twee dogters wat nou getroud is met hul eie kinders (met wie hulle nogal redelik streng is) my dikwels kwalik geneem, omdat hulle aan sekere reëls onderwerp was wat “ander” kinders nie geken het nie.

Moet tog nie vir ‘n oomblik dink dat ek glo my knders het hul altyd, of dan selfs meestal, gedra soos wat ek verwag het nie, maar wat belangrik is, is dat ek hulle lewend aan die ander kant uitgekry het en dat hulle vandag uit gewoonte sekere dinge doen wat ek hulle geleer het.

Net voor jy kliek om eerder iewers anders oor Zuma en so aan te gaan lees, hou net effens uit – die crux van die storie kom nou, wel om waarheid te sê, direk nadat ek net wil noem dat karre, motorsport en bestuur my passie is en altyd sal wees.

Ek kan nogal bestuur en het al uit situasies gekom waar ek by stilhou opgekyk het om dankie sê vir hulp – omdat ek seker was, dat ek nie alleen uit daardie spesifieke situasie gekom het nie.

In kort – maak nie saak wat baie mense dink nie – min dinge is lekkerder as om werklik en ek bedoel, werklik ‘n kar te kan bestuur.

Aan die ander kant is daar niks gevaarliker as iemand wat nie weet wat om te doen wanneer dinge verkeerd gaan nie.

In die 14 jaar wat ek by Rallystar Motorsport Akademie betrokke was het ek tot die slotsom gekom dat minder as tien present van mense wat lisensies het of dink hulle het – kán bestuur.

Dit was dikwels werklik onaangenaam om in ‘n kar te sit, langs iemand wat nie eers die ritme, die vloei van die aksies kan regkry nie, laat staan nog om alles bymekaar te hou.

Van hulle verstaan nie eers hoe die koppellaar en ratkas bymekaar pas nie, laat staan nog hoe om uit die moeilikheid te kom wanneer dinge verkeerd loop.  Dit is uit diemaard van die saak, dan ook die grootste probleem op ons paaie.

Die tweede grootste probleem op ons paaie – naas die feit dat mens in ‘n korrupte bestel alles insluitende bestuurderslisensies kan koop – is die feit dat mense, meestal ouers wat geen gevoel of idee het waaroor bestuur gaan nie, hul kinders “leer” bestuur. Dit behoort volgens my strafbaar te wees – netsoos om ‘n lisensie te koop.

Ek het soveel keer wanneer ek groepe by Rallystar hanteer het gesien hoe ‘n seun amper ‘n kloon van sy pa agter die stuurwiel is. Dieselfde foute, dieselfde persepsie – dieselfde vertolking van die werking van ‘n kar.

Nou kom ons by die punt.

Omdat ek nie almal kan leer bestuur nie en ook nie K53 of K9 (amper dieselfde in baie gevalle) opleiding doen nie – gaan ek nie weer hierdie jaar laat verby gaan sonder om ten minste te poog om een lewe iewers te red nie.

Dit is sulke tyd – matriekafskeid (ja ek weet ek is alweer te laat daarvoor) – maar baie jaar eindfunksies en dan ondinge soos die matriek “orgie” in Margate, lê weer voor.

Doodgaantyd vir baie jongmense – dikwels met ouers se ywerige samewerking.

Kom ons kyk volgens my na die grootste probleme in volgorde van belangrikheid.

Vyand nommer een. Drank – en sy nefie – die selfoon.

Ek drink glad nie – net omdat ek simpel genoeg nugter is, maar een sonde wat ek al paar keer gedoen het – een keer amper met tragiese gevolge – is die selfoon ding.

Selfs om net “OK” in te tik terwyl jy bestuur is amper net so simpel as om gedrink agter die stuur in te klim.

Ons sê nie verniet dat brandewyn nie brieke het nie – en as die persoon wat die voertuig moet bestuur selfs net EEN drankie drink binne ‘n uur voor hy moet bestuur gedrink het – leer jou kinders om die aanbod – maak nie saak of dit die aantreklikste ou, of mooiste meisie is saam met wie hulle moet ry nie, van die hand te wys.

Indien, veral jou dogter dit regkry om een of twee keer so ‘n aanbod vreindelik van die hand te wys, en jou te skakel om haar te kom haal (as jy natuurlik self nie partytjie gehou het nie) sal so ‘n persoon eers dalk geafronteer voel, maar die volgende keer sal hy of sy dalk twee keer dink voor hy of sy wil drink en bestuur, of nog beter – van jou kind af wegbly.

Geen drank inname is al wat werk.

Iemand wat nie kan bestuur nie is gevaarlik genoeg, maar iemand wat nie kan bestuur nie en drink tot hy of sy Mario Andretti word – is dodelik!

Nommer twee – meer as twee jonges in dieselfde voertuig.

Ek gaan nie vreeslik oor die punt uitbrei nie – daar is oorgenoeg navorsing hieroor gedoen – so glo onomwonde wat ek hier sê.

Die som werk ongeveer soos volg:

Kom ons sê een jongeling (veral tussen die ouderdomme 17 en 25) in ‘n kar se kans op ‘n ongeluk is 10%

Wanneer daar ‘n passasier is verhoog dit na ongeveer 20%

Drie in die kar verhoog na 40%

Vier of meer – veral ses of sewe, wanner kinders selfs op mekaar se skote sit soos wat telkens van en na partytjies die geval is, is ‘n ongeluk wat plek soek om te gebeur. Dit mag net nie gebeur nie – maak nie saak wat die rede daarvoor was nie. Jou kind mag eenvoudig nie in so ‘n kar inklim nie!

Dit is ook belangrik dat jy nie toelaat dat jou kind saam met iemand ry wat nie ‘n goeie en LANG bestuursrekord het, veral waar meer as net hulle twee in die kar is nie.

Ja ek weet, soms is ‘n chaperone nodig, maar ‘n tydelik onwelkome kleinkind en die venynige – “ek’t mos geweet” – praatjies van die familie is ‘n baie beter opsie, as die stroewe gesigte by ‘n oop graf.

Elke ongeluk is een nader aan jou.
Elke ongeluk is een nader aan jou.

Nommer drie – wanneer jy nie weet saam met wie jou dogter in ‘n kar klim nie.

Onthou, wanneer dit by bestuur kom, dan is dit in meeste gevalle nie dieselfe “ordentlike mannetjie” wat jou so hoflik groet en mooi vir jou vrou glimlag en met ‘n piepstemmetjie vertel hoe verantwoordelik hy is – wat by die huis uitstap en groot meneer agter die stuur inskuif nie. Hy het dikwels ‘n behoefte om te wys hoe vaardig hy agter die stuurwiel is en verander in die roekelose duiwel homself sodra hulle om die eerste hoek verdwyn.

Het jy al ooit die moeite gedoen om uit te vind hoe goed of sleg hy bestuur, of sal dit nie eers help dat jy saamry nie, omdat jy self nie enige ander afleiding kan maak of ander gevoel kry as ‘n knypende benoudheid in die kar saam met iemand wat jy nie ken nie.

‘n Fantastiese bron van inligting is om met van sy vriende te praat oor wie beste bestuur. Jy sal gou uitvind wie sit soos ‘n kampioen en bestuur soos ‘n onbeholpe nar. Die een wat sus of so goed kan bestuur – is gewoonlik die een wie se ongelukstoneel jy uit die lug uit moet afneem om alles op een foto in te kry.

Luister ook maar, indien moontlik, na die ouers se gevoel oor bestuur en veiligheid. Kyk of hulle veiligheidgordels dra en veral of “mannetjie” daaroor besorg is.

As hy wegtrek voor jou dogter haar gordel vas het – blaas die fluitjie en laat hulle fliek toe stap! Sy sal dan dalk ook agterkom dat stap ook dalk nie een van sy sterk punte is nie  en tien teen een agterkom dat sy aan di moad, inplaas van die heining se kant moet stap, om hom te beskerm teen gevare.

Nommer Vier – wat eintlik nommer een ook kon wees. – ‘n “Deal is a deal”

Wanneer jy (hopelik) ‘n tyd onderhandel het wanneer jou kind by die huis moet wees – is dit nie later weer onderhandelbaar nie. ‘n Deal is a deal!

Baie ouers sal weet hoe klink daardie half-elf in die aand oproep, wanneer daardie smeekstemmetjie sê,    “Pappa (hulle noem jou tot ‘pappietjie’ tydens hierdie oproepe), ”ag ons kuier nou so lekker, kan ek nie maar bietjie later huistoe kom nie? Ag ‘seblief pa, toe pa!”

Die antwoord is “Naampie – ek en jy het ‘n ooreenkoms aangegaan – ek hou by my deel om te sorg dat die huis daar is wanneer jy hier aankom, hou jy nou asseblief by joune om 5 voor 12 hier te wees. As jy nie ‘n geleentheid huistoe het nie, bel my, ek kom haal jou met liefde! Pappatjie geen rerig nie om nie!” Moet nie tydreelings verander nie!

Dronk mense ry enige tyd – maar tussen twaalf en drie in die oggende is hul gunsteling tyd. Moenie toelaat dat jou kinders die paaie met hulle deel nie en glo my – na twaalf dans hulle ook nie meer eintlik nie.

As jy die kar waarin hulle ry ook van ver af hoor aankom – sorg dat jy vir die persoon wat bestuur so gou moontlik vertel wat gaan gebeur as jy hom of haar weer so hoor ry.

OPSOMMEND

Geen drank of selfone terwyl hull bestuur nie.

Hoe minder persone in die motor wat die bestuurder kan aanhits, of wie die bestuurder met sy talent wil beïndruk, hoe beter.

Geen veiligheidgordels by die wegtrek is onmiddelike diskwalifikasie.

Ry saam met die bestuurder voor jy toelaat dat hy of sy jou kinders se lewe in sy/haar hande neem. Betaal vir UBER in plaas van AVBOB

Ooreengekome tye is doodeenvoudig nie onderhandelbaar nie en moet nooit, ooit te lui wees om jou kind te gaan haal nie – en sorg dat jy nugter is, of dat daar iemand is wat hulle kán gaan haal – UBER as jy self bietjie “uber die muur is”.

Nog een baie belangrike aspek – sorg dat jou kinders nie bang is om jou die waarheid te vertel nie – ongeag van hoe erg hulle verkeerd opgetree het. Hulle moet weet dat enige besluite of raad wat jy gee, wat op ‘n leuen gebasseer is, niks beteken nie!

Sterkte en mag jy nog ‘n groot familie en baie klein- en agterkleinkinders hê!

Nota: Hoe meer mense hierdie poging lees – hoe beter – moet dus nie bang wees om dit selfs met jou kinders te deel nie.

Onthou asb dat hierdie skrywe gebasseer is op my persoonlike opinie en waarnemings. Geen syfers is wetenskaplik nagegaan of getoets nie – maar dit sal nogal onverantwoordelik wees indien, veral ouers, hierdie artikel ignoreer.

© Leon Botha 2016 – deel asseblief met jongmense.