MOTORSPORT NEWS

TARA – BUURLAND SE DINGE

Voor ons afskop met die storie van alle stories of dan ten minste vir die maand, wil ek net noem dat oupa altyd gesê enige storie behalwe Bybelstories en die van Bloedrivier – hou net ‘n week. So – ek sê by voorbaat jammer vir die gedraaiery met hierdie storie – maar eers wou ek baie meer skryf, toe besluit ek op minder (nie dat dit min is nie) – om verskeie redes.

Nog net een ding oor oupa, wanneer hy iets gesê het en jy sou waag om te sê, “mar oupa” dan het hy, nadat jy jouself afgestof het, vertel dat “(na ‘n week) is die storie so verander, dat dit ‘n ander storie is!”

So voor die week te ver weg is, wil ek darem net een en die ander oor die afgelope Taratydren wat op die 18de en 19de November 2016 daar in Namibië gehou is, vertel.

Daar het egter baie dinge gebeur het voor-, tydens- en sal seker ook nog na die tydren gebeur.

‘n Jong burgeroorloggie het voor die tydren in die Namibiese howe uitgebreek – om waarheid te sê – die aand van die dag voor die tydren – is “my Lady” versoek om die stoute tydrenorganiseerders te forseer om ‘n sekere jongman toe te laat om ook saam met die ander te kom speel.

Langstorie dié!

Dinge het nie sommer daardie oggend begin nie, maar die geskiedenis kom lang, lang pad en voor ek dalk ook in ‘n hof beland (nie dat ek té veel daarvoor skrik nie) wil ek net eers die geskiedenis wat sekere persone vir my bymekaar maak, mooi regkry – dinge mooi rangskik en dan sal ek later meer hieroor vertel – ALLES vertel wat al lankal moes vertel gewees het.

Terwyl die stryd in die howe die dag voor die tydren geduur het, het ons almal een keer in konfooi (behalwe een span) oor die roete gegaan en ek moes baie vinnig by die, vir my, nuwe tipe “notas” aanpas en die opsteller of masjien se berekenings kry. Ek het gou agter gekom dat wat ek as ‘n vyf ken, was vir die masjien ‘n drie – maar hier en daar was die beskrywings gedoen soos wat die voertuig deur die draai bestuur is wat effens gepla het.

Omdat ek nie seker was van die notas se formaat nie, het ek alles maar voor die tydren oorgeskryf om my veranderings makliker te maak. Dit het goed gewerk, maar die groot faktor was dat ons nie die veranderings kon toets nie – en ek het geweet ons sou nie stadig ry nie. So – enige fout kon ons baie duur te staan kom.

Met die notas agter die rug, maar die hofsaak nog nie – is ons maar huistoe. Ek wou nie by die hof wees nie, omdat die saak niks met my te doen gehad het nie en ek dalk net iewers onnodig ingetrek sou word – dan was alles weer my skuld!

Oggend van die tydren – by die klubhuis waar die tydren dokumentasie geskied, lyk dit nie goed nie – net twee of drie spanne staan daar rond en almal lyk redelik befoeterd.

Die Roetemeester Derek Jacobs lyk verbouereerd – gespanne en terselfdertyd ook ontsteld.

Hy is vir al sy moeite en harde werk beloon, deur “getuies” wat in die hof gelei is, wat hom as ongekwalifisseerd beskryf om hierdie tydren te reël! So hoor ek – maar onthou ek was nie daar nie en dinge was maar redelik tweedehands oorgedra, maar dat Derek verneder is, dit is so!

“….en hy se toe eks, wat?”

Ek het besef dat dit nou tyd was vir mooipraat – julle weet mos – wanneer mens uit nood uit praat “in belang van die sport”, “groot asseblief – as jy toegee, kry sekere mense hul sin en kan hulle met reg sê dat hul wil in Namibië geskied” – hulle het belowe, so hoor ek dat as hulle nie ry nie, sal die tydren nie plaasvind nie!

Derek se trots gaan uiteindelik sak toe en hy besluit om sy uiterste bes te doen om tog nie enigiemand rede te gee om soos gewoonlik te “protesteer” as dinge nie loop soos dit volgens “hulle” moes nie. Sommer verlede jaar se tydren is tot niet verklaar – en dit omdat …..

Borge is weg, baie skade is gedoen maar die bakarm brigade beur voort.

Volgende probleem – net 4 uit 21 spanne wil ry as ‘n sekere jongman gaan ry en die borge wil hul geld terug hê!

Manne staan lê skuins teen die muur van die klubhuis in die bietjie koelte wat vroegdag beskikbaar is.

“Saamstaan”. “Genoeg is genoeg!” “niemand gaan ry nie”, hoor mens terwyl jy so tussen deur manne wat de moer in lyk, stap.

Nog mooi praat en verduidelik dat daar gery móét word – en al is ek en Jacques die enigste wat dan teen die Hof se inskrywing moet ry, dan gaan ons dit ‘n “go” gee – seg ek.

Ek doen my bes en hier en daar sien ek ‘n wenkbrou bewe soos die een en ander hulle vir my vererg – seker maar omdat ek nie saamstem nie – wat hulle nie weet nie is dat ek in my hart só saamgestem het dat ek amper ook omgeswaai het en eerder die ander twee wat wou ry wou oorreed dat die Hofinskrywing maar alleen sy ding doen.

Ek het egter vasgeskop en elke moontlike ding genoem hoekom ons moes ry!

Nog bietjie oorreding, nog bietjie mooi praat en toe stap ek maar weg om binne by dokumentasie te gaan loer of daar beweging was. Teen die tyd was daar darem al 12 inskrywings wat dokumentasie voltooi het – netsoveel soos die apostels van ouds.

Nog bietjie praat, maar kom ons maak ‘n lang storie kort – 20 uit 21 gaan ry om verskeie redes: “onder protes”, “in belang van die sport”, “ek ry, omdat ek weet sy pa sou wou gehad het ek moet ry”… en so gaan die stories voort.

Nou nog ‘n blerrie skok – van die beamptes het besluit om liewer te gaan werk of rus of wat ookal, omdat hulle nie lus was vir hierdie gestoei nie! Niemand kan hul kwalik neem nie, maar terugkom, die móés hulle kom.

Derek sê dat daar plan gemaak sal word – kom wat wil!

Die tydren raak nou meer ‘n werklikheid as wat ek gedink het dit gaan word en die druppels sweet van waarheid begin op my voorkop en bolip uitslaan.

Ek het so half en half gehoop die tydren gebeur nie want ek het al baie mense opgelei om te navigeer, baie “pace-notes” in my lewe gemaak – maar ek het nog nooit as navigator in ‘n kar gesit wat daar vóór – en ek bedoel voor onder die bestes ry nie.

Om op Rallystar te navigeer en om op ‘n roete wat jy net een keer gesien het, te doen, is twee verskillende sake.

Jacques Botha – wat die kar gaan bestuur het ‘n paar jaar laas op dié vlak gery – dit was dus ‘n kombinasie van “nog nooit” en “lank gelede!”

Ons moes nog tussendeur met vergrootglase lees watter griep medisyne ons mag en watter ons nie mag drink nie – net ingeval ons vir verbode middels getoets word – sou ons dalkies voorloop of sekere mense hou nie daarvan dat ons deelneem nie.

Ons het altwee die vorige dag tydes die roete notas se nagaan so in die kar gehoes, dat nie een van ons die helfte van die notas kon hoor nie.

Ons het liekeries gevreet en soveel keel-tablette gesuig dat my bek so dood was dat ek kort-kort moes voel of hy nog daar was. Die hof se eie inskrywing het rustig op sy eie tyd oor die roete gegaan – wat natuurlik nie volgens die reëls is nie, maar aangesien die statutêre liggaam wat motorsport in Namibië beheer – tydelik deur die howe vervang is – tel geen reël nie.

Tydens die “recce” het ek al besef dat daar geen manier onder die heetige Namibiese son was dat ek al die instruksies betyds sou gelees kry nie.

Die probleem was – wat los ek in en wat laat ek uit?

“Nee man, hy se dat die enjin uit sy oupa se kar kom, die VIN nommer is sy lucky number en die registrasie nommer het hy persent gekry!”

Intussen kom die polisie as voorsorg maatreël ook die tydrenmotors se registrasie, VIN en ander nommer nagaan.

Japie van Niekerk se linkerhandstuur Ford is glo ook in die hof genoem en daar is beswaar aangeteken (so hoor ek)

Japie probeer regs sit en oor Robert leun om die stuur by te kom, maar besluit to dat hy maar die kans sou vat om kragte na die tydren in welke hof dit ookal gedoen moet word, te meet.

Stilweg het ek gehoop dat daardie stryd sou plaasvind – want van Niekerk sou nie sonder die A span opdaag om sy punt te bewys nie en is, soos ek hom ken, is hy nie bang om regte, egte swaargewigte aan te vat nie. So ‘n veergewig geveg behoort nie te veel te pla nie.

Ons spring sewende weg!

Dippenaar is eerste en maak die pad oop, terwyl van Niekerk tweede op die pad, hom jaag.

Ons ry ook soos die ander wat uit die voor tydren “hou area” uittrek ook ‘n rondtetjie om die ovaalbaan om darem nie te stupid te lyk nie. Ons weet egter dat jy nie bande binne 300m warm genoeg kan maak om op grond ‘n verskil te maak nie, en ons los toe maar die ander om hul brieke op te warm en band temperatuur met 20 grade te probeer lig.

Vader sy genade, as die karre lugsakke in gehad het , sou daar geen “ongepopte” sak oorgebly het van die geruk en gebriek nie.

Die ergste was dat ná die warm-makery wag almal ten minste vier minute of so om weg te trek, dan nog so twee in die wegspringblokke en siedaar – alles was weer koud! Om alles te kroon. lyk de band warm makery nie eers goed nie.

Die eerste instruksie was “vurk links – 140m haarnaald regs 80m draai 90˚ Links”

Ek’s reg, Jacques sê hy is reg – geen “launch control” of “anti-lag” is aan nie.

Ons het besluit dat ons eers sou kyk wat maak ons kar en met watter tempo Dippenaar en van Niekerk vorendag kom, voor ons sou probeer “grand” raak. Ek was natuurlik ook skrikkerig dat ons albei met die wegtrekslag flou sou met die “lunch-control” aan, omdat ons nie meer gewoond is aan dié soort “G-force” vorentoe, of is dit agtertoe, nie!

In die eerste sneldeel se kontrole spook ek om met die sekondes op die beampte se horlosie te sinkroniseer en laat Jacques amper ‘n sekond te laat wegspring.

Voor ek kon keel skoonmaak om van die vurk te vertel, moet ons hard briek om die haarnaald-draai raak te ry!

Liewe dierbare moer, maar die kar is vinnig, dit kom omternt elke sekonde by iets nuuts aan.

Ek lees dat die spoeg spat – probeer een of twee keer nogal opkyk om te sien waar ons gaan doodgaan – ergste was dat ek het geen klank terugvoer in my helmet gehad het nie en glad nie vir Jacques kon hoor nie.

Ek het dus nie geweet of hy my hoor of hy my nie gehoor het nie en die vrees dat ons die kar sou afskryf het al hoe groter geword en my nog meer gespanne gemaak.  ‘n Gemors van ‘n gemors.

Hoe meen jy, eks op die verkeerde bladsy?

Ek het die notas net eenkeer deurgegaan en het op een of twee foute wat ek gemaak het met die oorskryf afgekom. Toe sê die voorsitter van Murphy’s Law Klub in my oor wat mooi hoor, dat ek gaan links roep wanneer dit regs moes gewees het!

Ons jaag egter voort….

Jacques beduie met beide hande – ek weet nie waarmee hy bestuur het nie, maar ek hoor nie en verstaan nie wat hy probeer sê nie. Dit lyk of hy beduie ons gaan rol en ek soek solank plek om by boeke in te druk soos daardie kranige navigators in the WRC karre maak voor hulle ‘n ongeluk maak.

 

Maar hy hou aan jaag en beduie – ek verloor my plek vir presies 300m maar gelukkig beduie ek voor sy gesig verby watter kant toe hy moes draai, omdat ek die draaie kon sien.

Terug op my plek op die bladsy en met verhoogde lees-tempo bly ek darem so een of twee instuksies voor hom.

Ons kom by ‘n “80 long Left 4 – danger sudden  Accute Hairpin Right narrow and down!” aan, maar die “sudden” sluk ons in en ons ry verby – nie vêr nie, net effens.

Nou vir die pret om trurat te selekteer in ‘n opvolg (sequencial) ratkas. Dit voel soos ‘n uur, maar ons kom gou weer weg en stel steeds so vyfde vinnigste tyd op.

Die vuurdoop was vir my nogal wild en ek het besef dat ek met my onfikste dik agterent gaan sukkel om hierdie pas vol te hou.

Die Subaru ontwikkel intussen ‘n effense enjin “miss-fire”, maar wanneer jy petrol gee loop hy asof ‘n effens gebrande klep nie juis saak maak nie.

Ons Pom-Pom meisies – Stefanie, Mila en Elsabe Botha

By sneldeel twee se begin is daar ‘n effense oponthoud en moes ek uitklim om die tye te kry.

Die sitplek is so laag dat ek skaars oor die paneelbord kon sien. Die rolstawe so hoog en grand, dit voel of hulle jou binne in die kar toegesweis het en om uit te kom is wat die Engelse noem, “a mission”.

Uiteindelik buite, loop ek my vas in die assistent baanbeampte wat vir my iets probeer beduie van ‘n “deurmekaarspul” by kilometer 5.28 en ek noem toe dat ek moet gaan inklok en hol verby.

By die kontrole staan ek geduldig rond en bid dat ek tog net die regte tyd sou kry, want die enkel beampte het sy hande vol en dit lyk nie of hy my sien staan nie.

Tyd is egter reg aangeteken en ek stap om die Assistent se storie te hoor.

Hy praat van “Chinese trokke wat skuins op die roete geparkeer staan”, maar dat daar iemand sou wees om vir ons te beduie wat ons te doen staan en waar om te ry. Ek ken tjorts al is dit nog agter die bult!

‘n Paar minute later staan ons in die kontrole en wag om weg te spring.

Assistent van formaat en die beampte kyk bekommerd na iets wat hulle geskryf het en ons wag. Ek trap naderhand die toeter wat onder my linkervoet aangebring is net om aandag te trek. Dit was nogal lekker – nog ‘n eerste vir my – ek het nog nooit voorheen ‘n toeter getrap nie.

Die marshal begin toe sommer aftel en ek gil dat ons nie ‘n wegtrektyd het nie.

Die Assistent meester skryf die uur en een minuut in. Ek kyk op en sien dat ons volgens die robot binne 10 sekondes sou moes wegtrek!

Ek moes soos weerlig besluit of ek dalk in ‘n argument betrokke gaan raak oor ‘n nuwe wegspring tyd en/of ek gou my bearings moes bymekaar maak en wegspring sonder dat ek my roete-nota-boek op die regte plek oop het. Ek was nie lus vir enige verdere argumente nie en besluit om vas te byt en daar gaan ons weer.

Ek kry darem van drie af getel en gelukkig is die eerste paar instruksies maklik en in ‘n reguit lyn sowat 200 meter na ‘n sestig grade draai na Regs toe.

Die slag is my tempo reg en kry dit reg om net ver genoeg voor Jacques met die instruksies te bly en om hom te gaan “haal” deur moeiliker seksies. Sowat 230 instruksies in ongeveer 369 sekondes! Enetjie elke 1,6sekond.

Ek praat en hy ry. Ek begin hiperventilleer (ek sweer) en kry nie asem gehaal nie.

Om te kan navigeer teen die tempo moes jy kon asemhaal soos een van daardie Australiese ouens wat die Didjeridu blaas en ek besef dat ek dit nie kon doen nie!

Ek praat dat die are in my nek opswel, ek raak pers in die gesig en weet ek gaan ‘n hartaanval kry!

Al wat tussen ons en ‘n besliste dood lê was dat ek die liewe Heer moet oortuig om die hartaanval terug te hou dat dit nie net voor ‘n “!!!Right” of “!!!Left Nine” gebeur nie.

Daardie drie “!!!” beteken “Extreme Danger” – en ons het die vorige dag gedurende ons recce – alles uitgehaal wat ons gedink het nie die Reiger skokbrekers sou pla nie. So enige waarskuwing was nou geldig!

Al 100 plus kilogram van my sit sonder ‘n druppel suurstof – ek kry eenvoudig nie tyd om in te asem nie en skielik soos ‘n visie kom ek as drywer tot “tydren-bekering” – die lig gaan op en ek besef dat die belangrikste ou in ‘n moderne tydrenmotor wat ‘n 100 meter binne 1,8s kafdraf en ‘n kilometer in minder as 18sekondes geskiedenis maak, die navigator is.

Ja, ja – ek weet die bestuurder moet die kar op die pad hou en al die dinge, maar hy sal dit nie teen daardie tempo kon doen indien die navigator vir hom vertel waar hulle WAS, in plaas van waarheen hulle op pad is nie.

Nou sal jy wil weet hoe ek dan baie mense opgelei het, of iets  met hul navigasie opleidingte doen gehad het, as ek nou eers op die rype ouderdom van wat ookal, uitvind wat die werklike tempo is.

Jy moet verstaan – Gauteng se mielielande is een ding, Sabie se plantasie ‘n ander, maar Namibie se ongelooflike “op jou afkom paaie” is iets op sy eie.

Ek kyk op die odo – freaking vinnig – en besef ons is naby die Chinese padblokkade waaroor ons gewaarsku was.

Toe ons daar aankom sien ek net “manshaarkapper tape” rooi en wit net waar jy kyk en niemand, soos belowe was, wat beduie waarheen ons moes gaan nie. Hier was die tjorts nou wat netnou agter die bult was!

Met my laaste asem skreeu ek vir Jacques dat hy ‘n “Right 9” moet maak tussen twee stringe bunting in en dan weer ‘n “Left nine”

Ek het gedink ons gaan onderdeur die bunting gly, maar nee, Subara se kind sprei sy tone uit soos ‘n kat wat van die vierde verdieping van ‘n woonstel af val. Hy trap vas dat my valhelm 45 grade op my kop draai en twee van my krone in my bek skuif.

Negentig regs, negentig links en siedaar – ons gaan al weer op in die ratte.

Lang storie kort – ons maak die sneldeel in 6min 09s klaar en palm daarmee my eerste sneldeel wen as navigator in. Ons was 18 sekondes vinniger as tweede vinnigste tyd.

Die enjin mis raak erger en dit was duidelik dat ‘n klep besig was om te brand.

Ons besluit egter om sneldeel drie te doen en dienspark toe te ry om te kyk wat aan die gang was. Dalk was ons gelukkig en was dit ‘n “coil” of iets kleins!

Aksie in sneldeel een – ek kon nie eers behoorlik sien nie!

Sneldaal Drie was die eerste een waar ek “onnodige” instruksies begin uithaal het. Ene, twee’s en drie’s verdwyn – enige hop of skiep wat nie waarskuwing verdien nie, word uitgelaat.

Daar was ‘n instruksie wat as gevaarlik gemerk was – “Danger Left Three up” waaroor ek die vorige dag nie kon besluit nie. My probleem was dat daar ‘n relatief reguit stuk van 680m volspoed voor voor die draai was en ons teen ‘n hengse spoed daar sou aankom. Waar ons na die “up” sou land was wat saak sou maak.

Die Subaru loop met misvuur en al, steeds harder as enige ander een wat ek al gery het en ek sien die “draai” aankom.

So 200m voor dit besluit ek dat Jacques nie heeltemal reg gaan oplyn vir die “up” gedeelte nie … net toe ek wil begin gil oor die “danger” beweeg hy perfek oor na regs en ek sien die lyn deur daardie draai lê soos ‘n Koki streep deur ‘n “vorige prys” op ‘n uitverkoping.

Ons gaan ongeveer 200km/uur daardeur. Die Subaru tel sy bene op en strek hulle weer uit om perfek in die pad te land. “Doef” en sonder enige beweging na die kante toe, skiet hy eenvoudig weer vorentoe.

Ongefriekenlooflik!

Ons kom toe by ‘n “Right 9, Right 8” draai (‘n reghoekige perdehoef) aan en Jacques gaan perfek daardeur. Twee instruksies later is ‘n “haarnaald links” maar dit is kort voor ‘n “Right 4  tightens Right 6 into !!!Right 4 through drift” – ek lees tot daar en ….. skielik stop Jacques die kar.

“Ons is op die verkeerde pad” seg hy! “Dis onmoontlik” skrou ek!  Maar Jacques draai die kar om en begin terug ry.

Ek probeer bepaal waar ons was, hy gooi ‘n teken of twee na ouens wat langs die pad staan – “Hulle het daardie pyl omgedraai want ek soek die R8!” gil hy!

Nou moet jy weet, hy skreeu vir sy eie pa, want die interkom is dood, ek skreeu vir hom dat ons die R8 lankal gekry het – en ek weet hy is verkeerd – uiteindelik na nog ‘n bietjie oortuiging en herhinnering aan sy laaste pakslae, draai ons om maar wag uit ordentlikheid vir die volgende kar om deur te kom, sodat hy nie omdat ons verkeerd was, in ons stof moes ry nie!

Dick Cornelissen en Jaco Wiese in wat beskou word as die vinnigste tydren Subaru in Afrika.

Lang storie – weer kort.

Ons kom so twee drie minute stadiger as die vinnige manne deur die sneldeel – en net daar staan speurder-konstabel-sersant-owerste-oor-twee van die polisie en hy stop al wat tydrenmotor is.

“You are not allowed to drive these cars on the national road!” seg hy terwyl hy sy neus vir ‘n klomp miljoen Rand se karre optrek en sy hand soos die Queen oor die karre swaai.

Ek probeer met die man redeneer – wetende dat SA se wette en die plaaslikes nie te veel verskil nie. Ek verduidelik vir hom van die VVO, Dirk Mudge, my persoonlike vriend Desmond Tutu – maar hy wil niks weet nie en sê net “go sit in the car! I am waiting for my next instruction!” en ek sê; “I won’t sit in the car, its too hot!”

“There you go, insisting on your rights again!” voeg hy my toe – wanneer ‘n gesprek daardie kant toe beweeg dan loop ek liewer …

Na ‘n bietjie rondstaan en so aan – oortuig die President van Motorsport in Namibië wat intussen opgedaag het, die man uiteindelik dat hy effens gefouteer het.

Almal ry – maar ons kar wil nie vat nie!

Met hulp van vriendelike manne wat kan stoot, kry ons hom aan die gang maar sowat ses kilometers verder – sny alles uit en daar staat hy – vierspoor soos ‘n Namibiese of enige ander tipe donkie!

Ons tydren was iets van die verlede – en ek slaak ‘n sug van verligting!

Live to fight another day!

Dit was ‘n heerlike ondervinding en soos ek gesê het, vir my ‘n werklike “eye opener” wat betref die navigator se werk en die se doel in die voertuig.

Lola en Eddie Verlaque – gereelde besoekers aan die tydren.

‘n Goeie navigator kan ‘n gemiddelde drywer goed laat lyk, maar ‘n swak navigator kan ‘n uitstekende drywer se loopbaan verongeluk.

Dankie aan Derek en sy hele span wat vir ons ‘n puik tydren gereël het onder baie moeilike omstandighede. Ek haal my hoed af vir julle integriteit en die feit dat julle jul trots gesluk het en jul werk gedoen het.

Die restaurant waarin ‘n heerlike prysuitdelings funksie gehou kon gewees het, se swak beplanning het gesorg dat almal vroeër loop om iewers anders iets te ete te gaan soek. Dit is altyd so jammer dat sulke buite faktore waaroor mens geen beheer het nie, dinge laat verkeerd loop.

Die oorwinnings-toespraak was effens te lank maar nieteenstaande al die dinge, was dit ‘n heerlike ervaring en selfs my griep kon nie keer dat ek dit geniet het nie.

Al het die kar gehou, dink ek nie dat ek en Jacques dié tempo sou kon volhou nie, en indien ons Vrydag deur die dag sou kom, dink ek nie ons sou Saterdagoggend uit die bed kon opstaan nie.

Hierdie was vir my weereens ‘n bewys van hoe belangrik fiksheid in hierdie sport is. Ons was eenvoudig nie fisies of geestlik voorberei om die tempo waarteen ons gery het, en glo my, Jacques kan ry, vol te hou nie.

So, fiks word is ons voorland – of rolbal op amateur vlak wag vir ons albei!

Mark Cronje lyk maar effes ongemaklik maar Japie praat!

Ek moet egter noem dat Jacques weereens aan my bewys het dat hy nie noodwendig die beste kar nodig het om saam van die bestes te kan ry nie. Ek was weer van voor af beindruk!

Namibië is ‘n wonderlike land, deur die liewe Vader gebou vir die sport wat soveel van ons na aan die hart lê, maar tipies het die mens weer ‘n rol te speel en die ouens vir wie die sport en nie hul egos nie, ‘n passie is nie – moet hierdie geleentheid wat geskep is om sake reg te kry – nie verby laat gaan nie. Nou moet daar vir eens en altyd ‘n punt gemaak word om almal op hul plek te sit – en hopelik besef die howe ook dat statutere liggame veronderstel is om hul sake te reël.

Reëls moet voor die tyd duidelik op papier staan en daardie reëls moet toegepas word. Die oomblik wanneer buitestanders wat niks van die sport weet, en geen gevoel daarvoor het nie en ook lyk my geen sportmangees het nie, toegelaat word om die sport te beheer – dan is die skrif aan die muur.

Die Finale uitslae. Net 13 spanne kon hierdie uitmergelende tydren voltooi.

Japie Van Nierkerk Robin Houghton S4 02:05:07
Wilro Dippenaar Riaan Van Der Westhuizen S3 02:05:33
Jaco Redelinghuys Cecil Koortz S3 02:18:10
Allan Martin Melvin Gous S3 02:21:47
Willem Hugo Mandi Hugo S4 02:26:15 00:00:10
Jannie Coetzee George Coetzee S2 02:41:27 00:00:50
Gert Liebenberg Johan Thiart S4 02:48:18
Ettienne Van Den Heever Willy Van Wyk S2 02:50:46
Hanre Myburgh Geon Ellis S1 02:54:27 00:00:40
Marco Luis De Wet Du Plessis S4 03:04:17
Peer Rohm Eugene Marias S1 03:04:30
Pieter Greeff Steven Robinson S1 03:20:47
Tinus Malan Paul Van Niekerk S2 03:24:52 00:01:30

 

ALLE FOTOS WAT GEBRUIK IS, IS MET GROOT MOEITE DEUR PARTICK BEAUMONT VERMAAK GENEEM.

 

Baie dankie vir al jou harde werk Patrick, ons almal stel dit hoog op prys.